VOOR- EN NAGESLAGTE VAN

JAN GEORG BENDER

Van Amsterdam

  amsterdam

‘n Skildery deur Carel Jacobus Behr (Den Haag 1812-1895)

“Het Singel met de Oude Lutherse Kerk, Amsterdam”

________________________________________

VOORGESLAGTE IN DUITSLAND

 _______________________________________

Dit wil voorkom asof die Suid-Afrikaanse Bender familie van Duitse oorsprong was en gedurende die Paltse Emigrasie in 1709 uit Eschelbach, Sinsheim, in die Rynland-Palts van Duitsland, na Rotterdam en uiteindelik na Amsterdam ge-emigreer het.  Dit is duidelik uit kerkregisters dat die familie van die Suid-Afrikaanse stamvader net twee, of op die meeste drie geslagte in Holland was.  Die naam Jan (Johann) Georg Bender kom gereeld voor in 17de tot 19de-eeuse kerkregisters van die dorp Eschelbach, en naburige dorpe Sinsheim en Dühren in Duitsland.

ESCHELBACH

eschelbachlug

Eschelbach lugfoto – Bron: eschelbach-ilm.de

Eschelbach is ‘n dorp in die suide van die Rhein-Neckardistrik van Baden-Württemberg en is sedert Julie 1972 opgeneem as deel van die groter dorp Sinsheim. Die dorp bestaan al van antieke tye af, was beset deur die Romeine, en is vir die eerste keer in 1071 in die Lorsch kodeks genoem.

Net soos ander dorpe in Duitsland het Eschelbach erg gely onder die Dertigjarige-Oorlog, en die daaropvolgende tyd van die Franse inval. Die dorpie is feitlik heeltemal vernietig en al wat oorgebly het, was die boeregemeenskap.  Stelselmatig is die dorpie weer opgebou, maar die heersende armoede het gelei tot ‘n ontvolking en emigrasie tot in die vroeë 20ste eeu. Tussen 1840 en 1892 was daar 427 mense in Eschelbach en aan die einde van 1945 was daar 1,438.

 evangelische kirche

Die Evangelische Kirche Hirschhorn Straße 42, Eschelbach – Bron: Wikipedia en kirchenbezirk-oehringen.de

Eschelbach was in die eerste helfte van die 16de eeu suiwer Luthers. ‘n Katolieke kerk is later in die 17de eeu gebou op ‘n heuwel bokant die dorp. Die eerste kerk in die dorp was reeds in 1365 gebou maar is gedurende die Dertigjarige-Oorlog deur ‘n brand vernietig.  Die kerk is weer in 1769 herbou tot sy huidige vorm.

Vandag is daar nog heelwat Benders in Eschelbach.  ‘n Vinnige soeke deur ‘n Eschelbach telefoongids lewer ongeveer 53 persone op met die van “Bender”.  ‘n Besigheid in die hoofstraat, Eichtersheimer Straße heet “H. & S. Bender Auto Service”.

DIE PALTSE EMIGRASIE

Die Paltse Emigrasie word beskryf as die beweging van duisende Duitse boere en ambagsmanne uit die boonste Ryndal in Duitsland na Engeland vanaf 1709 tot 1710.  Volgens Lucy F. Bittinger, skryfster van  “German Religious Life in Colonial Times”, was daar verskeie oorsake vir die uittog, insluitend oorlog, hongersnood, hoë beslasting en godsdienstige vervolging.

Die hoofoorsaak was egter die strawwe winter van 1709. Dwarsdeur die suide van Duitsland het ysige temperature gewasse, vrugtebome en wingerdstokke vernietig en daarmee saam enige hoop vir toekomstige oeste. Self voëls en wilde diere in die woud het gevries. Die mense was honger en met die oorloë nog vars in hulle geheue, ‘n tydperk waarin een uit elke drie Duitsers omgekom het, was hulle maklik verlei deur Britse propaganda om settelaars te lok na die kolonies in die Nuwe Wêreld (Amerika).

Slegs ‘n massa-uittog uit die Paltse kon suksesvol wees, aangesien die Duitse keurvors enige emigrasie sou stop sodra dit opgemerk word. Die volgende lente het duisende Duitsers na die kus van Holland gevlug waarheen Koningin Anne van Engeland skepe sou stuur om hulle na Londen te neem. Mense sonder genoeg geld is te voet deur die Rynvallei na Rotterdam. Ander met besittings om te verkoop kon ‘n plek koop op klein bootjies of houtvlotte wat met die Rynrivier afgevaar het na Rotterdam.  Die vlugtog het tussen twee en ses weke geduur.

houtvlotte

Houtvlotte op die Rynrivier.

Teen Oktober 1709 was daar alreeds 15,000 Paltse vlugtelinge in tydelike skuilings in Londen. Weens die probleme om so ‘n menigte mense te huisves en te voed het Engeland geweier om meer vlugtelinge te aanvaar. In die groep het agtergebly het in Holland, was onder andere die Benders. Van Rotterdam is hulle mettertyd verder noord na Amsterdam.

rotterdam

Rotterdam.

_______________________________________

VOORGESLAGTE IN NEDERLAND

_______________________________________

Dit is nie seker of die familielyn van die Hollandse Benders net deur een vlugteling begin is, en of daar meer as een familielede in die land agtergebly het nie. Dit kan wees dat net een jongman van die familie moes agterbly en die res wat getroud was en kinders gehad het Amerika toe gestuur is – die familiename kom gereeld voor onder die vroeë Amerikaanse settelaars.  Kerkregisters wys egter dat Duitse Bender manne met Hollandse meisies getrou het.

spui

Amsterdam – ‘n uitsig oor die Spui.

Die Bender  familie was Protestante en lidmate van die Evangelisch Lutherse Kerk in Amsterdam.  Daardie jare was dit die gebruik van die kerk om soms babas tuis te doop, so ook Jan George.

“Overigens werd in Amsterdam niet altijd in de kerk gedoopt: de lutheranen en remonstranten doopten ook aan huis.” Bron: Stadsarchief Amsterdam.

Ene Johanna Bender was die eerste Bender wat in die Kerk se doopregister aangeteken is. Sy is gedoop op 17 Maart 1723 in Amsterdam, Noord-Holland en was die dogter van Johannes (Jan) Bender en  Grietie Jans.

Die Suid-Afrikaanse stamvader, Jan Georg Bender se ouers, JOHAN GEORG BENDER en GRIETJE MOR, is getroud op 16 Augustus 1782 in Amsterdam.

johan huwelik

JOHAN GEORG BENDER  en GRIETJE se kinders: (Wilhelmina, Jan Georg, Regina,Grietje, Aart)

 1.  Wilhelmina Bender is gedoop op 8 Julie1784 in “Kerk aan’t huis” (tuis), Evangelisch-Lutherse Kerk, Amsterdam.

2.  JAN GEORG Bender is gedoop op 22 Oktober 1786 in “Kerk aan’t huis” (tuis), Evangelisch-Lutherse Kerk, Amsterdam – getuies: Wilhelmus Franke en Cornelia Poolman.

3.  Regina Bender is gedoop op 29 April 1789 in die Evangelisch-Lutherse Kerk, Amsterdam. Getroud met Samuel Helmhoud.

4.  Grietje Bender is gedoop op 31 Augustus 1791 in die Evangelisch-Lutherse Kerk, Amsterdam.

5.  Margaretha Bender is gebore op 10 September 1794 en gedoop op 14 September 1794 in die Evangelisch-Lutherse Kerk, Amsterdam.

6.  Aart Bender is gebore op 17 Augustus 1796 en gedoop op 19 Augustus 1796 in die Evangelisch-Lutherse Kerk, Amsterdam.

jg doop Amsterdam

Jan Georg Bender se doopinskrywing in die doopregister van die Evangelisch-Lutherse Kerk, Amsterdam.

 binne evangelisch

Vergadering van de Maatschappij tot Nut van’t Algemeen in de Oude Lutherse kerk te Amsterdam, 1791.

 ca by kerk

  De Oude Lutherse Kerk, Singel 411, hoek van Spui, Amsterdam. Dit is tussen 1632 en 1633 gebou op die perseel van ‘n Lutherse huiskerk.

amsterdam mark

 Daaglikse lewe in Amsterdam – die ou vismark op Damplein deur Emanuel de Witt.

_______________________________________

DIE SUID-AFRIKAANSE STAMVADER 

JAN GEORG BENDER

_______________________________________

 Dit is nie bekend waar en presies wanneer JAN GEORG BENDER in Suid-Afrika aangekom het nie. Rekords wys dat hy in 1820 in die distrik van Graaff-Reinet gewoon het waar hy op 34-jarige ouderdom trou met CHRISTINA JOHANNA SMIT.

Daar is egter twee moontlike scenarios vir sy aankoms:

‘n Soektog vir enige rekord dat hy in diens van die VOC was of gevaar het op ‘n VOC skip het geen resultate opgelewer nie. Hy kon wél op ‘n Britse skip aangekom het want met die Tweede Britse besetting van die Kaap in 1806 is Algoabaai (Port Elizabeth) terselfdertyd ingeneem.  Dit gee hom hom twee moontlike punte van aankoms, Kaapstad en Algoabaai, in ‘n tydperk van veertien jaar tussen 1806 en 1820 met sy huwelik.

Scenario 1:

JAN GEORG BENDER kon moontlik in 1820 as matroos in Suid-Afrika aangekom het in die geselskap van Carl Jacobus von Plettscher. Helen Lewald (gebore Van Pletsen), skryfster van “Die van Pletsen Saga”, vertel dat daar twee weergawes is van die stamvader Carl Jacobus von Plettscher se aankoms in Suid-Afrika:

  1. Die eerste weergawe is van haar oupa, Carl Johannes van Pletsen: “Na die slag van Waterloo … as verstekelinge op ʼn skip hier aangekom in 1820. Dit blyk dat hy in Graaf Reinet te lande gekom… Ja, en hy en ʼn ander klein twak met die naam Havenga kruip toe mos weg op ʼn skip sonder om to betaal. Hulle het in ʼn groot vaatjie weggekruip maar moes toe maar later uitkom want hulle was byna dood van die honger en die luise het hulle omtrent opgevreet. Dan het oupa geskud soos hy lag” …
  1. Volgens haar Tant Alie: “Hy en … ene Bender, was albei lyfwagte van Napoleon, … Verder vertel sy: Na Waterloo het hy matroos geword en hy en Bender het op die manier in Suid-Afrika aangekom saam met die familie Sauer wat op dieselfde skip was.”

Oupa Carl Johannes van Pletsen se vertelling klink maar tong-in-die-kies! “Dan het oupa geskud soos hy lag” … Die probleem met “ʼn ander klein twak met die naam Havenga” is dat die Havengas al sedert 1755 in die land was.  Dus was iemand anders saam met Van Pletzen ‘n verstekeling. Dalk Jan Georg Bender.

Volgens Tant Alie se weergawe het Van Pletzen as matroos saam met “ene Bender” in Suid-Afrika aangekom en dat hulle albei in Napoleon se weermag was.

  •  ‘n Uittreksel uit: The Settler Handbook. A new list of the 1820 Settlers, deur M.D. Nash

As places in the emigrant parties became vacant through withdrawals or desertions, most of them were taken up by eager substitutes, often former members of other parties whose applications had been rejected. Even after the parties had embarked, would-be emigrants hung about the docks on the chance of becoming official or unofficial replacements for last minute deserters, or even smuggling themselves aboard as stowaways.

It was a common practice for substitutes to travel under the names of the men they replaced. Party leaders neglected to inform the authorities of changes, or hesitated to do so in case objections were raised. When the first parties went on board their transports, the Navy Board agents turned away anyone whose name was not on the official lists, and emigrants were quick to adopt other men’s names rather than risk rejection. It was not until late December 1819 that a formal directive was issued permitting substitutes to embark, so long as the original number of settlers in the party was not exceeded.

skepe

1820 Britse Setlaars skepe in Algoabaai (Port Elizabeth)

 Seereise na die Kaap het gewoonlik tussen vier en ses maande onder haglike omstandighede geduur. Slaap- en leefruimtes was baie beknop en ‘n dieet van soutvleis en ‘n tekort aan vars water, vars kos en groente het skeurbuik veroorsaak.   Sterftes het gereeld tydens die reis voorgekom. Reisigers, matrose en soldate het nie net die gevaar van stormagtige see, stranding, verdrinkings of vuur die gesig gestaar nie, maar hulle het ook die risiko geloop om aangeval te word deur seerowers of ‘n buitelandse vyand.

Scenario 2:

Met die uitsondering van kort periodes van vrede, was Europa tussen 1792 en 1815 in ‘n oorlog betrokke. Gedurende Napoleon se besetting van Nederland (Bataafse Republiek) was baie manne, jonk en oud, gedwing om vir Napoleon te veg in sy leër en vloot. Jan Georg Bender kon moontlik een van hierdie jong manne gewees het.

Tussen 1793 en 1815 is meer as twee-honderd-duisend krygsgevangenes na Brittanje gebring. Hulle was hoofsaaklik Frans, maar ook burgers van lande wat op een of ander tyd verbonde aan, of beheer was deur Frankryk, in besonder Holland en Spanje. Die oorlog tussen Brittanje en Frankryk het die Britte opnuut  die strategiese nut van die Kaap laat insien en in 1806 het Brittanje die Kaap binnegeval en herower.

Die groot hoeveelheid krygsgevangenes het vir die die Britse regering ‘n probleem geword en ‘n aanbod is aan hulle gemaak – sluit aan by die Britse weermag of vergaan in aanhouding. Weereens kon Jan Georg Bender een van hierdie krygsgevangenes gewees het wat verkies het om eerder by ‘n Britse regiment aan te sluit.  Op 8 Januarie 1806 neem die Britte die Kaap in en land op 1 Maart 1806 onder bevel van Kaptein Cuyler in Algoabaai. Die troepe word in die grensarea van die Oos-Kaap versprei om aanvalle deur die Xhosa, veediefstal en moord op plaasgesinne te beheer.

Die eerste rekord van JAN GEORG BENDER in Suid-Afrika is sy huwelik in Graaff-Reinet in 1820. Op 34-jarige ouderdom trou hy met die 17-jarige CHRISTINA JOHANNA SMIT, dogter van Johannes Petrus Smit en Christina van Zetten. Sy is gebore in 1803 in die Graaff-Reinet distrik en sterf op 17 Desember 1862 in Burgersdorp, in die destydse Albert distrik.

 graaf-reinet

Graaff-Reinet in 1848

Die Bender gesin woon in die Graaff-Reinet tot ongeveer 1825 ná die doop van hul vierde kind. In ongeveer 1826 trek die gesin na die Albert distrik, waar Burgersdorp in 1846 gestig is. Jan Georg sterf op 18 Augustus 1867 in Burgersdorp.

 burgersdorp

Burgersdorp deur Thomas Baines – 1847

In die vroeë negentiende eeu, veral gedurende die jare tussen 1820 en 1830, het veeboere al  verder in die binneland ingetrek, spesifiek in die Noordelike deel van die Oos-Kaap, in die gebied nou bekend as Burgersdorp, Steynsburg en Aliwal-Noord. Hierdie area was buite die grense van die destydse Kaapkolonie en vêr van die gehate Engelse regering.

Voor die Gemeente Burgersdorp op 13 Oktober 1846 op die plaas Klipfontein gestig is, was inwoners van die distrik Albert deel van die groot Cradock gemeente. Elke drie maande het die Bender gesin saam met hulle bure opgetrek na die Visrivier vir Nagmaal en die doop van hul kinders.

  • ‘n Uittreksel uit “Die Geskiedenis van die Nederduitsch Gereformeerde Kerk ” Deur Dr Gerdrie van der Merwe

Elke drie maande trek lidmate van die uitgestrekte gemeente Cradock laer vir Nagmaal op die walle van die Visrivier, gewoonlik is daar tussen 300 en 450 waens met honderde mense. Daar is gesing en tot oormaat kerk gehou, alle vreugdevure brand hoog. By die kerklike geleentheid is kinders gedoop, huwelike bevestig en lê jongmense belydenis van geloof af. Nagmaal het ook kommersiële betekenis vir grensboere, handelaars en smouse doen fluks besigheid. Daarom keer menige vrolike boeregesin terug na ‘n afgesonderde plaas met ‘n geseënde hart en ‘n krakende wa vol noodsaaklikhede.

 ossewa

‘n Voorstelling van ‘n tipiese gesin met hul ossewa – Bron: “Gedenkboek van die Ossewaens op die pad van Suid Afrika. Eeufees 1838-1939”, deur H.J. Klopper.

 kerk burgersdorp

Die ou kerkgebou van die NG gemeente Burgersdorp – Bron: Nederduitse Gereformeerde Kerk Burgersdorp Eeufees-Gedenkboek 1846-1946

 In 1849 besit Jan Georg se oudste seun, Jan George Frederik, ‘n vier-vertrek huis in Van der Waltstraat 66, Burgersdorp. Dit is ‘n tipiese voorbeeld van ‘n ou Karoowoning met misvloere en rietplafonne. Gedurende die 1930’s het dit aan J.L. de Bruin en sy gesin behoort wat dit as dorpshuis gebruik word. Die huis is in 1972 aan die Burgersdorp museum geskenk en in 1980 was dit geïntegreer in die museumkompleks. Jan George Frederik was die oudste broer van hierdie stamlyn se voorvader, Andries Adriaan Bender.

  •  “The De Bruin house is a typical Karoo house with cow-dung floors and reed ceilings. In 1849 this four-roomed house belonged to a certain Mr. J.G.F Bender.  During the 1930’s Mr. J.L. de Bruin bought this house to be used as a town house.  It was donated to the Burgersdorp museum in 1972 and in 1980 it was integrated into the museum complex.”

   Bron: http://www.burgersdorp-museum.za.net/burgersdorp-monuments.html

 voor huisie1

Vincent en Andree Bender voor die De Bruinhuis, Burgersdorp.

 voor huisie2

Vincent Bender en sy kinders Damien, Lucan en Nevieke voor die De Bruinhuis, Burgersdorp.

_______________________________________

EERSTE GESLAG IN SUID-AFRIKA

_______________________________________

JAN GEORG en  CHRISTINA JOHANNA se kinders: (Margaretha Christina, Jan George Frederik, Hester Christina, Andries Adriaan, Jacobus Charles, Regina, Maartje, Maria Elizabeth, Casper Johannes Harm, Martha Catharina, Johannes Petrus Smit, Frederik Hendrik Jacobus)

1.  Margaretha Christina Bender is gebore op 10 April 1821 (Jan George was toe alreeds 35jr) en gedoop in Graaff-Reinet op 13 Mei 1821. Sy trou op 30 Junie 1839 in Cradock met Barend Jacobus Fourie.

2.  Jan George Frederik Bender is gebore op 12 Maart 1823 en gedoop op Graaff-Reinet op 6 April 1823. Hy trou op 9 September 1844 in Colesberg met Maria Johanna Fourie. Die huis op Burgersdorp het aan hulle behoort. Hulle het ‘n dogter, Johanna Levina Bender, getroud met Stefanus Engelbertus Ferreira en was woonagtig te Ladybrand.

3.  Hester Christina Bender is gebore op 15 Januarie 1825 en gedoop in Graaff-Reinet op 6 Februarie 1825. Sy trou op 25 Julie 1842 in Colesberg met Joseph Johannes van Dyk.

4.  ANDRIES ADRIAAN Bender is gebore op 13 Maart 1827, gedoop op 8 April 1827 in Cradock en sterf volgens die Voortrekkerregisters op 17 Desember 1853. Hy trou met FREDRIKA ELIZABETH PRETORIUS.

5.  Jacobus Charles Bender is gebore in Mei 1829 en gedoop op 21 Mei 1829 in Cradock. Hy trou op 29 Oktober 1855 met Fredrika Geertruida Neser.

6.  Regina Bender is gebore op 16 Februarie 1830 en gedoop op 16 Desember 1830 in Cradock.

 7.  Maartje Regina Magdalena Bender is gebore op 22 April 1833 en gedoop op 19 Mei 1833.

8.  Maria Elizabeth Bender is gebore op 28 November 1834 en gedoop op 20 Desember 1834 in Cradock. Sy trou met Karel Heinrich Wilhelm Neser.

9.  Casper Johannes Harm Bender is gebore op 12 Mei 1838 en gedoop op 2 September 1838.

10.  Martha Catharina Bender is gebore op 3 Junie 1840 en gedoop op 17 Januarie 1841 in Colesberg.

11.  Johannes Petrus Smit Bender is gebore op 6 Augustus 1843 en gedoop op 21 Januarie 1844 op Vonkelfontein, Colesberg, die plaas van J. Smit.

12.  Frederik Hendrik Jacobus Bender is gebore op 4 Junie 1846 in Burgersdorp en gedoop op 18 September 1846 in Colesberg. Hy sterf 23 Oktober 1900 op die plaas Wegdraai, Hoopstad.

ANDRIES ADRIAAN Bender is gebore op 13 Maart 1827, gedoop op 8 April 1827 in Cradock en sterf volgens die Voortrekkerregisters op 17 Desember 1853.  Hy trou met FREDRIKA ELIZABETH PRETORIUS. Sy is in 1831 gebore in Uitenhage en sterf op 14 September 14 1883 op 52-jarige ouderdom op die plaas Mezeg, Marico.  Na Andries Adriaan se dood in 1853 trou trou sy met Gert Lucas Roos van die plaas Mezeg. Haar familie kom ook uit Graaff-Reinet en het waarskynlik saam in ‘n groep ander families Noordweste toe getrek. (Bender, Coetzee en Pretorius). Dit lyk asof al drie families eers van Graaff-Reinett na die Albert distrik (Burgersdorp) getrek het en vandaar het van hul kinders in die vroeë 1850’s na Marico getrek via Potchefstroom.

_______________________________________

TWEEDE GESLAG

_______________________________________

ANDRIES ADRIAAN en FREDRIKA ELIZABETH se kinders: (Andries Adriaan, Jan George Frederik)

1.  Andries Adriaan Smit Bender is gebore op 23 September 1852 en gedoop op 17 Desember 1853 in Potchefstroom.

2.  JAN GEORGE FREDERIK Bender is gebore 30 Maart 1850, gedoop in die Nederduits Hervormde Kerk in Rustenburg op 24 November 1850, en trou met GEERTRUIDA CHRISTINA COETZEE.

JAN GEORG FREDERIK Bender is gebore 30 Maart 1850, gedoop in die Nederduits Hervormde Kerk in Rustenburg op 24 November 1850 en trou met GEERTRUIDA CHRISTINA COETZEE. Sy is gebore in 1857 en was die dogter van die mede-stigter van die dorp Zeerust, Diederik Jacobus Coetzee en sy vrou Maria Isabella.

  • ‘n Uittreksel uit die doopregister van die Nederduits Hervormde Kerk te Rustenburg op 24 November 1850 – Bron: Nándor Sarkady, Argivaris, Nederduits Hervormde Kerk.

 Doop: JAN GEORG FREDERIK BENDER. Gebore 30 Maart 1850. Ouers: Andries Adriaan Bender en Fred. Eliz. Pretorius – Getuies: Jan Georg Bender, Christina Joha. Smit, Jan Georg Fred. Bender en Maria Eliz. Fourie.

 coetzee

Diederik Jacobus Coetzee, (Jan George Frederik se skoonvader) gebore op 12 September 1820 te Graaff-Reinet. Hy sterf op 25 Junie 1891 op 70-jarige ouderdom te Klein-Maricopoort, Zeerust.

 coetzee graf

Die grafsteen van Diederik Jacobus Coetzee en Maria Isabella Coetzee te Klein-Maricopoort, Zeerust, ouers van Geertruida Christina Bender (gebore Coetzee).

 ZEERUST

  • Uittreksels uit Wikipedia:

Die oorspronklike naam van die plaas waarop die dorp gestig is was Sefathlani / Sebatlani (stowwerige plek) wat behoort het aan Casper Hendrik Coetzee, wat dit in 1858 gekoop het. Die plaas is later hernoem na Hazenjacht, en daarna Hazia / Hazeah. Casper Coetzee het Walter Seymore gekontrakteer om ‘n kerk en ‘n fort op die plaas te bou, maar hy (Casper) het gesterf voor hierdie voltooi is. In 1866, het die plaas in die hande van sy neef / swaer Diederik Jacobus Coetzee beland, wat die potensiaal van die ontwikkeling van ‘n dorp op die plaas gesien het. Hy het enkele erwe uitgemeet met die idee om ‘n dorp te begin en het osrieme gebruik om die plotte af te meet in plaas van die aanvaarde opmeterskettings. Op 20 Maart 1867, is die eerste erwe van die nuutgestigte Coetzee-Rust per openbare veiling verkoop in Potchefstroom, voor die amptelike erkenning van die versoek om ‘n dorp te begin kon verleen word. Die naam Coetzee se Rust is later verkort tot Zeerust. Munisipale status is verkry op 18 Maart 1936.

Iets interessante van die Nasionale Front se webblad rakende grondeise en die Bender familie:

  • GRONDEIS 3: Verowerde, onbewoonde gebied Zeerust, Marico, Buhrmannsdrift (presies vyftig plase).

** DIE NAGESLAGTE van hierdie plase sal waarskynlik ‘n eis teen die Staat hê aangesien hulle grond op politieke gronde onteien is om aan Bophuthatswana te gee volgens die Tuislandbeleid na 1913.

 Gedurende die 1830’s het Mzilikazi se troepe alle swart stamme in die gebied uitgewis. Die Baharutse onder stamhoof Diutlweng was van die slagoffers. Die oorspronklike naam van die gebied is dan ook “Madigo” – wat beteken “daar is bloed”.

Die Voortrekkers het na die Negedaagse Slag van 1837 besluit om die onbewoonde gebied te betrek.

Die eerste Voortrekker wat die gebied binnegetrek het was Daniël van Vuuren (van Vore) en hy het die plaas Wilgeboomspruit vir hom afgemerk.

* Hierna het die volgende Boere hulle daar gevestig (naam, plaasnaam volgens aktekantoor)

Jan Viljoen op Vergenoeg; Okkert Oosthuizen op Klaarstroom; Hans Terblanche op Uitvlug; Daniël van Vuuren op Wilgeboomspruit; LA Slabbert op Buffelshoek; Petrus Jacobs op Jacobsdal; Koos Snyman op Witrand; Louw Erasmus op Die Putte; Jan Meintjies op Doringfontein; Frans Joubert op Groot Marico; Johannes Grobler deel van Groot Marico; Daniël Rossouw op Enselsberg; Frans Naude op Driefontein; Casper van Zyl op Uitvlug; Matthys Potgieter op Sterkfontein; Louw van Niekerk op Sendingsplaas; Albert Meintjies op Saalkop; Piet van der Westhuizen op Winterhoek; Daniël Oberholzer op Oberholzerskloof; Piet Venter op Twyfelspoort; Gideon Volschenk op Wilgeboomspruit; Jan Nel op Kruisrivier; Gert du Toit op Rooigrond;Jan Bender op Wonderfontein; Riekert op Haasenjacht; Jan Roode op Malopo-oog; Botha op Trekdrift; Carel Wyeyers op Buhrmannsdrift; Frans Weber op Polfontein; Dolf Scheepers op Kruisrivier; C Coetzee op Makokskraal; C Louwrens op Brakfontein; Theuns Meyer op Rietvlei; Daantjie Malan op Uitvlught; Ernest Potgieter op Bokkraal; Willem Fourie op Brakfontein; Johannes Grobler op Wonderfontein; Gieljam Oberholzer op Kraaloog; Hendrik Joubert op Driefontein; Kallie van der Merwe op Bergvliet; Kalie Swart op Kalkfontein; Adriaan Engelbrecht op Kwaggafontein en Suurfontein, Kommandant Enslin op Enselsberg. Na die Slag van Boomplaats van 1848 is die volgende persone beloon met plase in die onbewoonde gebied: AJ Gronum op Weltevrede; Hans Coetzee op Kalkdam; kommandant Jan Mocke op Mosega; Filippus Benade op Buhrmansdrift; Roelf Lee op Kafferskraal; Christoffel Snyman op Kwaggafontein; Izak Buys op Sendelingspos.

_______________________________________

 DERDE GESLAG

_______________________________________

JAN GEORGE FREDERIK en GERTRUIDA CHRISTINA se kinders: (Andries Adriaan Smit, Johannes Cornelis, Petrus Johannes, Susarah Jacoba , Maria Magdalena, Philippus Christoffel, Maria Isabella)

Moontlik het hulle meer as sewe kinders gehad aangesien daar ‘n gaping van 17 jaar tussen die oudste kind en die tweede oudste is.  Die oudste seun Andries Adriaan Smit Bender word nie in die register van die konsentrasiekamp genoem nie en dus kan dit aangeneem word dat hy saam met sy pa op kommando was. Daar kon dalk nog seuns ouer as sestien jaar gewees het wat saam op kommando was.

Volgens Professor Fransjohan Pretorius van die Departement Geskiedenis en Kultuurgeskiedenis, van die Universiteit van Pretoria:

  • “Seuns van 16 jaar volgens die kommandowette van die Zuid-Afrikaansche Republiek en die Oranje Vrystaat krygspligtig was. Dit beteken dat alle seuns van 16 jaar verplig was om te moes veg in die Boereoorlog. ”

Reeds in die eerste maande van die oorlog was daar penkoppe jonger as sestien jaar in die kommandos. Maar dit was veral in die laaste gedeelte van die oorlog dat bloedjong seuns by hul vegtende pa’s en ouer broers in die veld aangesluit het.

 penkop

‘n Bloedjong penkop gee vir sy oupa ‘n patroon aan.

 1.  Andries Adriaan Smit Bender is gebore in 1871 en gedoop in die plaashuis op Meseg, Marico. Hy sterf ongetroud op 7 Oktober 1905.

2.  Johannes Cornelis Bender gebore in ongeveer 1886. Hy was op 18-jarige ouderdom as krygsgevange verban – land onbekend.

 3.  Petrus Johannes Bender gebore in 1888. Hy was 13 jaar oud met hulle aankoms in die konsentrasiekamp.

4.  Susarah Jacoba Bender gebore 19 Februarie 1889 en was 12 jaar oud met hulle aankoms in die konsentrasiekamp. Sy trou met Marthinus Willem Viljoen Pretorius.

5.  Maria Magdalena Bender gebore in ongeveer 1891. Sy was 10 jaar oud met hulle aankoms in die konsentrasiekamp.

6.  PHILIPPUS CHRISTOFFEL Bender is gebore op 23 Augustus 1894 in die Zeerust distrik en sterf op 30 Julie 1946 in die Militêre Hospitaal, Voortrekkerhoogte, Pretoria. Hy trou met MAGARETHA MARTHINA (nooiensvan onbekend).

 7.  Maria Isabella is gebore in 1899 en sterf in die konsentrasiekamp aan maagkoors op twee-jarige ouderdom.

 PHILIPPUS CHRISTOFFEL Bender is gebore op 23 Augustus 1894 in die Zeerust distrik en sterf op 30 Julie 1946 in die Militêre Hospitaal, Voortrekkerhoogte, Pretoria. Hy trou met MAGARETHA MARTHINA (nooiensvan onbekend). Hy trou weer, in Vryburg, met Elizabeth Catharina (nooiensvan onbekend). Op 6-jarige ouderdom was hy vir een jaar saam met sy ma, broer en susters in die Mafeking Konsentrasiekamp. Hy het later lare in Roodepoort gewoon, was ‘n Staff-sersant in die Weermag – voorheen ‘n “storekeeper”.

ANGLO-BOERE OORLOG

 Gedurende die Anglo-Boereoorlog (Tweede Vryheidsoorlog 1899-1902) het die Britse regering se Lord Kitchener die “verskroeide aarde” beleid ingestel. Die Britte kon slegs die Boere tot oorgawe dwing deur ‘n totale aanslag teen hul vroue, kinders en bejaardes. Terwyl die mans en opgeskote seuns op kommando was het die Engelse soldate plase afgebrand en vroue, kinders en bejaardes in konsentrasiekampe opgesluit. Hierdie weerlose mense is met treintrokke en waens aangery na die kampe en baie is ook te voet aangejaag. Die huise en plase is afgebrand om te verhoed dat vroue die Boere op kommando van kos en ander voorrade voorsien.

plaas brand

‘n Plaashuis word gestroop en verbrand  met konfrontasie tussen ‘n Engelse soldaat en ‘n Boervrou.

Kampe, wat bestaan het uit tente in die oop veld, was dikwels onhigiëniese, medisyne en water was skaars, en skuiling moeilik te vinde. Swak en onvoldoende voedsel, asook te min mediese personeel het rampspoedige gevolge gehad.  Net tussen Augustus en Oktober 1901 is 8,623 sterftes in die kampe aangeteken. As gevolg van die optrede van Emily Hobhouse en die daaropvolgende ondersoek na die toestande, het omstandighede teen Desember 1901 verbeter en die sterftesyfer het afgeneem.  Van die ongeveer 100,000 vroue en kinders wat saamgehok was in 45 kampe het 26,251 blanke vroue en 22,000 kinders gesterf.

kamp

“Kinderen sterven bij duizenden door ondervoeding” – Bron: De Onnodige Boerenoorlog

MAFEKING KONSENTRASIEKAMP

Die Mafeking Konsentrasiekamp is sowat 4 km van die dorp geleë op die Vryburgpad.

kamp kaart

  • Understanding the history of Mafeking camp presents special problems. For a brief period it had the highest death rate of any camp, in October 1901 reaching a staggering 4,132.741 per thousand per annum for children under twelve, the MO calculated. Bron: Die Universiteit van Kaapstad se projek “British Concentration Camps of the South African War 1900-1902”.

kamp begraafplaas

Mafeking Konsentrasiekampbegraafplaas.

rantsoene

‘n Voorbeeld van Rantsoenkaartjie van die Konsentrasiekamp op Mafeking. Dit het behoort aan Mev. R.C. Moolman. – Bron: Jacobus Moolman se webblad ”Die Moolmans van Mahemsvlakte”

Volgens die kaart was een volwassene se rantsoene die volgende:

7 pond meel (3.175kg), 4 pond vleis (1.814kg), 7 onse koffie (200g), 1 blik melk, 12 onse suiker (340g), geen botter, 4 onse sout (113g), geen stroop, 1 pond stampmielies, bone of rys (453g), geen steenkool, geen groente, 40 pond hout

_______________________________________

VIERDE GESLAG

_______________________________________

PHILIPPUS CHRISTOFFEL en  MAGARETHA MARTHINA se kinders: (Jan George Frederik, Christoffel Johannes Kuun)

  1. JAN GEORGE FREDERIK Bender is gebore op 12 November 1918 in Zeerust, sterf op 6 Julie 1973 in Bloemfontein en trou in Pietermaritzburg met MARY FRANCIS ANN BOTES.
  1. Christoffel Johannes Kuun Bender is gebore op 30 Junie 1920 in Zeerust en sterf op 3 Januarie 1981. Hy trou met Annie (nooiensvan onbekend) en trou vir ‘n tweede keer met ‘n du Plessis.  Hy het ten minste een seun, Lourens Stephanus Bender, gebore 1955 en sterf 2007.

JAN GEORGE FREDERIK Bender is gebore op 12 November 1918 in Zeerust en sterf op 6 Julie 1973 in Bloemfontein. Hy was eers verbonde aan die Spoorwegpolisie maar was afgetree ten tye van sy dood. Jan George Frederik trou op 4 November 1946 op 27-jarige ouderdom in Pietermaritzburg met die 20-jarige MARY FRANCIS ANN BOTES.  Sy is gebore 8 September 1925, en sterf op 27 Augustus 2004. Haar tweede huwelik is met Wynand Bezuidenhout.

 oupa persoonskaart

Jan George Frederik Bender se persoonskaart.

 oupa en ouma bender

Jan George Frederik Bender en Mary Francis Ann Botes op hul huweliksdag.

oupa huwelik

Jan George Frederik Bender en Mary Francis Ann Botes se huweliksinskrywinging in die register van die St Mary Katolieke kerk, Pietermaritzburg. Ten tye van hul huweliksdag het die bruidegom gewoon te Maystraat 7, Pietermaritsburg en die bruid te Mason’s Mill 7, Pietermaritzburg.

sterftekennis

Jan George Frederik Bender se sterftekennis

 jgf graf

 Jan George Frederik Bender en Mary Francis Ann Bezuidenhout (gebore Botes) se grafte in die Suidpark begraafplaas, Bloemfontein.

_______________________________________

VYFDE, SESDE EN SEWENDE GESLAGTE

_______________________________________

JAN GEORGE FREDERIK en MARY FRANCIS ANN se kinders: (Philippus Christoffel ,  Coenraad Adolphus, Mary Francis Ann, Elizabeth Margaretha Helena, Jan George Frederik , Jurie Kuun , Stefanus Johannes)

  1. Philippus Christoffel Bender (Flip of Oppie) is gebore op 20 April 1947, was getroud en sterf op 13 Mei 2005.

 Philippus Christoffel se kinders: (Chris, Fredre, Liselle)

1.  Chris Bender.

2.  Fredre Bender is gebore 13 April 1976 en trou op 4 September 2011 met Carmen Pienaar.

3.  Liselle Bender.

flp graf

Philippus Christoffel Bender – Muur van Herinnering, NG Kerk, Hartenbos.

 2.  Coenraad Adolphus Bender is gebore ongeveer 1948. Hy woon in Bloemfontein en is getroud met Gerbie – geen kinders.

3. Mary Francis Ann Bender was getroud met ‘n Van Heerden. Sy is oorlede op 2 Julie 1990.

 Mary Francis Ann en van Heerden se kind: (Janet)

 1.  Janet Bender woon in Australië.

 4.  Elizabeth Margaretha Helena (Elize of Meisie) Bender is getroud met ‘n Parkin. Sy woon in Bloemfontein.

 5.  Jan George Frederik Bender (George) is gebore op 18 Julie 1959 en sterf op 4 Maart 1991. Hy trou met Dorothy Le Hardy, dogter van Philip Le Hardy en Mary White. Dorothy is gebore in Bloemfontein op 27 Julie 1960.

 vinnie pa2    vinnie ma2

Jan George Frederik Bender en Dorothy Le Hardy

 george begrafnisbrief

Jan George Frederik Bender se begrafnisbrief.

george graf

Jan George Frederik Bender se graf in Bultfontein.

 Jan George Frederik en Dorothy se kinders: (Vincent, Jan George Frederik)

1.  Vincent (Vince, Vinnie of Bones) Bender is gebore in Bloemfontein en op 6 Julie 1975 en trou op 6 Augustus 1999 in die Klikpkerk, Bloemfontein met Andree du Plessis, dogter van Andries Barend Frederik (André) du Plessis en Carol Anne Beck. Andree is gebore in Ladybrand op 14 April 1980. Hy sterf op 43-jarige ouderdom op 20 November 2018 in Potchefstroom.

Vincent en Andree se kinders: (Damien, Vincent, Lucan André, Nevieke)

 1.  Damien Vincent is gebore in Bloemfontein op 13 November 1999.

2.  Lucan André is gebore in die Klerksdorp Hospitaal op 5 Augustus 2006 maar woon tydens sy geboorte op Ventersdorp.

3.  Nevieke Andree is gebore in die Klerksdorp Hospitaal op 12 Oktober maar woon tydens haar geboorte op Ventersdorp.

 2.  Jan George Frederik (Vlooi) is gebore in Bloemfontein op 24 September 1980 en trou met Wanda Taljard.  Wanda is gebore op 21 April 1977 en het ’n seun uit ’n vorige huwelik, Tristan Taljard, gebore 25 September 1997.

Jan George Frederik en Wanda se kind: (Kayleigh)

 1.  Kayleigh is gebore op 6 September 2008 in Bloemfontein.

 6.  Jurie Kuun Bender is gebore op 16 Mei 1961 en is getroud met Annelize. Hulle woon in Australië.

Jurie Kuun en Annelize se kinders: (Anri, Jurie Kuun)

1.  Anri Bender.

2.  Jurie Kuun Bender.

 7.  Stefanus Johannes Bender (Faan Johan) gebore op 18 Augustus 1967 in Bloemfontein en woon in Kraaifontein, Kaap. Getroud met Helga op 10 April 1993.

Stefanus Johannes en Helga se kinders: (Stefan, Jan-George)

1.  Stefan

2.  Jan-George

_______________________________________

BRONNE

_______________________________________

Inligting van familielede -‘n spesiale dankie aan Andree Bender en Annelize Bender.

Sterftekennisse van Andries Adriaan Bender, Philippus Johannes Bender en Jan George Frederik Bender.

Begrafnisbrief van Jan George Frederik Bender.

Doopregister  van die Evangelisch-Lutherse Kerk, Amsterdam.

Graaff Reinet, Cradock, Colesberg en Burgersdorp doopregisters, lidmaatregisters , huweliksregisters en  1806-1839 – Bewaarplek: GISA (Genealogiese Instituut van Suid-Afrika), Stellenbosch.

Doopregister van die Nederduits Hervormde Kerk te Rustenburg op 24 November 1850 – Bron: Nándor Sarkady, Argivaris, Nederduits Hervormde Kerk.

Archief van die Burgerlijke Stand, Amsterdam.

eGGSA: virtuele tak van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika (GGSA).

FamilySearch: Netherlands, Births and Baptisms, 1564-1910.

FamilySearch: Germany, Births and Baptisms, 1558-1898.

Die Universiteit van Kaapstad se projek “”British Concentration Camps of the South African War 1900-1902.

Professor Fransjohan Pretorius van die Departement Geskiedenis en Kultuurgeskiedenis, van die Universiteit van Pretoria.

Die van Pletsen Saga, deur Helen Lewald (gebore Van Pletsen).

The Settler Handbook. A new list of the 1820 Settlers, deur M.D. Nash.

Die Geskiedenis van die Nederduitsch Gereformeerde Kerk, deur Dr Gerdrie van der Merwe.

De Onnodige Boerenoorlog, deur Matt Verstegen.

Gedenkboek van die Ossewaens op die pad van Suid Afrika. Eeufees 1838-1939, deur H.J. Klopper.

Nederduitse Gereformeerde Kerk Burgersdorp Eeufees-Gedenkboek 1846-1946, Jan Andries Stephanus Oberholster.

The German exodus to England in 1709. (Massenauswanderung der Pfälzer.), deur Frank Ried Diffenderffer.

Palatine Emigrants, deur Kraig Ruckel.

German Religious Life in Colonial Times, deur Lucy F. Bittinger.

Jacobus Moolman se webbladDie Moolmans van Mahemsvlakte”

Nasionale Front se webblad.

Die Leger Museum Delft.

Die Burgersdorp Museum.

Oorlogsmuseum, Bloemfontein.

Wikipedia.

Ander webwerwe:

www.eschelbach-ilm.de

www.kirchenbezirk-oehringen.de

www.dastelefonbuch.de/telefonbuch/sinsheim/bender/eschelbach.html

Nationaal Archief – VOC Opvareden: http://vocopvarenden.nationaalarchief.nl/