Stamvader Jan Georg Bender is gebore in Amsterdam en daar gedoop deur die predikant van die Evangelisch Lutherse Kerk op 22 Oktober 1786 (meeste dope was gedoen aan huis en nie in die kerk nie). Aan die begin van die 1800’s kom hy na Suid-Afrika – vermoedelik as soldaat in diens van die VOC.

Dit lyk asof die familie net twee, of op die meeste drie geslagte lank in Holland was, en dat hulle oorspronklik uit Eschelbach, Sinsheim kom.

eschelbach1

Eschelbach lugfoto – bron: eschelbach-ilm.de

Eschelbach is ‘n dorp in die suide van die Rhein-Neckardistrik van Baden-Württemberg, en is sedert Julie 1972 opgeneem as deel van die groter dorp Sinsheim.

Die dorp bestaan al van antieke tye, was beset deur die Romeine, en is vir die eerste keer in 1071 in die Lorsch kodeks genoem. Net soos ander dorpe in Duitsland het Eschelback erg gely onder die Dertigjarige Oorlog, en die daaropvolgende tyd van die Franse inval. Die dorpie is feitlik heeltemal vernietig en al wat oorgebly het was die boeregemeenskap. Stelselmatig is die dorpie weer opgebou, maar die heersende armoede het gelei tot ‘n ontvolking en emigrasie tot in die vroeë 20ste eeu. Tussen 1840 en 1892 was daar 427 mense in Eschelbach en aan die einde van 1945 was daar 1438.

eschelbach2

Die Evangelische Kirche Hirschhorn Straße 42, Eschelbach – bron: Wikipedia en kirchenbezirk-oehringen.de

Eschelbach was in die eerste helfte van die 16de eeu hervorm na suiwer Luthers. ‘n Katolieke kerk is later in die 17de eeu gebou op ‘n heuwel bokant die dorp. Die eerste kerk in die dorp was reeds in 1365 gebou maar is gedurende die Dertigjarige Oorlog vernietig deur ‘n brand. Die kerk is weer in 1769 herbou tot sy huidige vorm en nuwe klokke in die klok toringhang langs ‘n groot klok uit die jaar 1484.

eschelbach3

Die pragtige orrel.

eschelbach4

Die Rathaus (stadsaal/munisipalekantore) is ‘n houtraamgebou, gebou in 1593 as ‘n herehuis deur Friedrich von Hirschhorn. Dit was later ook gebruik as ‘n tydelik Katolieke skool – bron: Wikipedia

eschelbach5

Eichtersheimer Straße – “H. & S. Bender Auto Service” – dalk  familiebande?

Vandag is daar nog heelwat Benders in Eschelbach. ‘n Vinnige soek deur ‘n telefoongids lewer ongeveer 60 persone op met die van “Bender”.